Wednesday 16 April 2014

My Afrikanerhart (this one is for those who think and do in Afrikaans)



Ek seil om die aarde en vaar tans windop teen 'n ondraaglike skuinste op 'n sewentig voet seiljag in die middel van die Stille Oseaan. Alles is blou om my - die see, die lug, die horison,  en die kimme van my emosies. Dis 'n baie lang trek van China tot San Francisco, en mens delf diep om kop en sinne te behou op die grysblou planeet in 'n eindelose sirkel van tyd. Soms omvou die blou jou en lank terug se herinneringe en vrae terg jou onverskrokke van een golf tot die volgende.   

Vir die afgelope bykans dertien jaar vandat ek Suid-Afrika verlaat het, het ek hoofsaaklik in Engels gefunksioneer en het dikwels gewonder of ek nou al in Engels dink en droom, want net wanneer ek my ma se stem in my kop hoor my berispe oor iets doms wat ek aangevang het, sal Afrikaans in my dag-tot-dag kop uitsteek. Wanneer ek baie moeg is, of wanneer ek baie emosioneel is, sukkel ek om myself in Engels uit te druk en dan kan net die woorde van my kleintyd se wese uitspraak vind.

Partymaal tik ek iets in Engels en onwillekeurig sal my vingers die woord in Afrikaans laat verskyn, of ek sal met iemand praat en as ek my weer kan kry gebruik ek skielik 'n Afrikaanse uitdrukking.  Wanneer mense my frustreer sal ek hulle onnutsig in Afrikaans vertel om te gaan k@#. Maar oorheersend het ek myself oor die jare in die buiteland al hoe meer hoor tel, baklei, hardop dink, en selfs saggies bid in Engels.

Mens gee baie op wanneer jy jou geboorteland verlaat, maar die diepste verlies is jou moedertaal in jou elke dag se verloop. 

En dan bevind ek my in die middel van die Stille Oseaan baie alleen op 'n boot met dertien ander vreemdelinge, en terwyl ek na my musiek luister deur my oorfone kom Koos DuPlessis se stem en deurboor die diepste kamers van my Afrikanerhart.  Iets sny deur al die vertaal en uitspraak en behoefte aan uitdrukking gee. 'n Roepstem vra na naakte eenvoud van woorde waarvan ek elke nuanse verstaan, en waar dit onnodig is om te dink want alles is net daar om op te tel en te gebruik.  

Afrikaans is moontlik 'n growwe en kras taal op die vreemde oor,  maar vir my dra die taal van die mooiste poe"sie en woordkuns.  Met Koos, Laurika of Coenie in my ore besef ek my hunkering na gesprekke waar humor en kultuur bloot le^ soos 'n kat in die son opgekrul  - rustig en sonder enige inspanning.  Ek mis waar ek nie hoef te wonder oor sarkasme, ironie of intensie nie, want dis ingebed in elke sinsnede, uitdrukking en speelsheid soos my pa my geterg het as kind, of my ma my geleer en stories vertel het. Dis ingewortel in jou grootword, en die stamme van Afrikaner-klanke vertak deur elke hoekie van jou denkproses. Dis so deel van jou soos jou vingerafdrukke.

Behalwe vir die gemak van gebruik van 'n moedertaal is daar ook die ongenadige manier wat dit skerp infokus op emosie, en vandag het dit my alleenheid aan die keel gegryp.  Ek het stil in my swyende bootbed gesnik en myself absoluut vereenselwig: 

"As almal ver is, word die hart skielik oud.  As die wereld 'n ster is, afsydig en koud. As daar geen een is, sit jy als op die skaal, want jy weet wat geleen is word eindelik gehaal.  
Dan kom die waarheid en besweer elke leun. Skenk jou weer klaarheid en laat jou alleen. 
As almal ver is vind jy jouself, waar jy in laaie in stil hartkamers delf.  As almal ver is, vind jy jou siel, weerloos en eensaam soos 'n vrou voor 'n spieel."

4 comments:

  1. Ursula, pragtige stuk. Jy moet dit dalk oorweeg om artikels vir n tydskrif te skryf of jou hand slaan aan n boek. Jy het die talent.

    ReplyDelete
  2. Pik ek 'n traan skaamteloos by die werk... Hoe mooi

    ReplyDelete
  3. Ai, Ursula, jy het kans gekry om baie diep te delf. Ek dink meeste mense kom in hul leeftyd nie sover nie. Jy moet 'n manier vind om jou memoirs met ons te deel. Skryf 'n boek, of sĂȘ vir Beeld jy het iets besonders om te deel, wat hul nog nie in hul argiewe het nie. Baie mooi.

    ReplyDelete
  4. Dis so waar - sels al trek die Afrikaner uit Suid Afrika uit, bly jy nog altyd Afrikaans :)

    ReplyDelete